Artikelbron: www.opendoors.org.za
Ná baie jare se getroue diens aan ons vervolgde familie, het Gavin Wood as Geopende Deure Suider-Afrika se voorsitter uitgetree om ʼn nuwe hoofstuk in sy lewe te begin. Ons betuig ons innige dankbaarheid vir sy onwrikbare toewyding en leierskap, wat instrumenteel was om ons organisasie te lei tot waar dit vandag staan.
Terwyl ons afskeid neem van Gavin, verwelkom ons Kerusha George hartlik as ons nuwe voorsitter. Kerusha bring ʼn magdom ervaring, passie en nuwe perspektiewe in dié hoedanigheid en ons is verheug dat sy ons in die volgende fase van ons reis gaan lei.
Ons is opgewonde om jou aan Kerusha voor te stel deur ʼn V&A met haar. Hierdeur deel sy meer oor haarself, wat haar geïnspireer het om hierdie nuwe pos te aanvaar en watter boodskap sy graag met jou wil deel.
Kan jy ons meer oor jouself en jou agtergrond vertel?
Ek is in die eerste plek ʼn kind van God. Ek is ʼn prokureur, aktebesorger en notaris van beroep, en is in KwaZulu-Natal gebore en getoë.
Wat het jou aangemoedig om die rol van voorsitter by Geopende Deure Suider-Afrika te aanvaar?
Dit was nie ʼn maklike besluit om te neem nie, gegewe die verantwoordelikheid en die groot skoene wat gevul moes word. Ek het baie hieroor gebid en uiteindelik het ek die besluit heeltemal aan God oorgelaat. Alles het in plek geval, met alle struikelblokke wat uit die weg geruim is. Die pad het duidelik in dié rigting gewys. Wanneer God sê jy gaan, gaan jy, met Hom wat jou lei.
Wat is jou doelwitte en prioriteite as die nuwe voorsitter?
Gebed, gebed, gebed, vir ons broers en susters in Christus. Om die organisasie se leierskap te ondersteun. Om ʼn spieël voor te hou en ʼn klankbord vir die uitvoerende direkteur te wees, en om hierdeur Geopende Deure Suider-Afrika (GDSA) na nuwe en groter hoogtes te neem sodat ons ons Godgegewe doel kan vervul.
Wanneer jy aan ons vervolgde familie dink, is daar ʼn ontmoeting wat jy met hulle gehad het wat jou in jou geloofsreis gehelp het?
Ek het na verskeie lande gereis, maar elke reis het verskil en het ʼn ander en langdurige impak op my gehad. Ek word dikwels herinner aan hoe selfvoldaan ons kan raak in lande waar ons vry is om te aanbid. Ek moet myself dikwels daaraan herinner om nie dié voorreg as vanselfsprekend te aanvaar nie. Om te beleef hoe ons vervolgde familie letterlik hul lewens aflê om ons Vader God te dien, het die manier verander waarop ek Hom dien. My lofprysing en aanbidding is anders. Mense kan nie dieselfde wees as hulle eers ons vervolgde familie besoek het nie.
Watter boodskap wil jy graag met ons vennote deel?
Eerstens, dankie vir die vennootskap met GDSA, hetsy in die vorm van gebed en/of finansiële ondersteuning. Ek bid God se 100-voudige seën oor jou vir die vennootskap en ondersteuning aan ons vervolgde familie. Broer Andrew het dikwels gesê dat ons gebede gaan waar ons nie kan gaan nie. Dus moedig ek ons vennote aan om voort te gaan om vir ons broers en susters te bid. As jy ooit ʼn geleentheid kry om dit te doen, sal ek jou aanmoedig om saam met GDSA te reis. Jy sal nooit weer dieselfde wees nie. Jy reis om ʼn seën te wees, maar jy is die een wat ook geseënd terugkom. Weereens dankie vir jou volgehoue ondersteuning.
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.
Datum gepubliseer: 01/05/2024
Foto verskaf (Geopende Deure)
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.