Geskryf deur: Karen Geldenhuys
Artikelbron: JUIG! Tydskrif

Verrassend anders! Die kraaknuwe dagboek lê gereed, die potloodpunt is skerp gemaak, reg vir afsprake en aksie! By die omblaai na die eerste werkdag in Januarie verander die plan op die ingewing van die oomblik. Geen afspraak word ingeskryf nie, geen moetdoen-lysie word puntsgewys neergepen nie.

Skemeruur-geselsies en piekniekplanne
Nee, Vrydag-laatmiddae kry ’n helder oranje kartellyntjie deur, want dit word skemeruur-geselstyd terwyl die son in die weste sak. Sondag na kerk se laatoggend kry ’n kurweblaarboog, dit beteken buitewees-bymekaartyd; ons gaan stap of hou ’n sorgelose piekniek. Die dagboekkolom wat die openbare vakansiedae aandui word nader getrek en deeglik bestudeer. Duidelike kringe om dié afdae gesirkel sê luidkeels: “In 2025 gaan rustigheid ons leuse wees!”

Geïnspireer deur die Skrif
Op soveel plekke in die Bybel word woordprentjies van vrede geskets. Die bron daarvan is die natuur; borrelende fonteine, Psalm 23 se groen weivelde en waters waar daar vrede is. Geplant by die lewegewende stroom groei die boom geil (Ps 1:3), verwelk sy blare nie en dra hy oorvloedig vrug. In sy skadu is daar rusplek.

Balans is belangrik
Ons lewens is dikwels uit balans, omdat ons dit wat onbelangrik en van korte duur is, prioritiseer. Die sigbare vorm dikwels deel van ons ingesteldheid. Ons fokus op die hier en nou, ons werk, elke dag se doendinge, pligte en take wat afgehandel moet word. Ons besef nie dat dit juis hierdie verkeerde fokus is wat ons gees laat skade ly en ons brandarm laat nie. Dis dié gejaag wat spanning en angs veroorsaak, onvergenoegdheid en onvervuldheid volg dan outomaties. Balans is belangrik – in rus en werk, in gee en neem, in vashou en los. In die besigwees en beplan dors ons gees na rus en vrede.

Hoe lyk rus?
Om rus in ons gejaagde programme te inkorporeer, vra ’n bepaalde bewustheid en wyse beplanning wat in ons dag ingebou moet word. Rustigheid beteken om vroegoggend tyd te maak vir stilwees in die heilige teenwoordigheid van die Here. Lees uit sy Woord en bid. Dit beteken om die belangrike en die onbelangrike van mekaar te skei en te doen dit wat waarde het en iets positiefs tot die dag bydra – sleurwerk is dikwels deel van die dag, maar oordeelkundige keuses en effektiewe werkswyses bring produktiewe, positiewe resultate. Rustigheid beteken om te kyk, te luister, te wees, daar waar ek ’n verskil kan maak, waar ’n hart nood het of iemand ’n koppie tee benodig. Dit beteken om te sit, net sit… net ’n oomblik…

Wees ’n rusplek vir ander 2025
So kom ’n vrede, ’n rustigheid en ’n kalmte. Dit vloei deur my gees tot in my diepste wese en oorspoel uit my binneste sodat ek vir ander ’n skaduboom, ’n waterstroom, ’n groen stukkie weiveld in 2025 kan wees.

KAREN GELDENHUYS – Toegewyde JOY! en JUIG! leser. E-pos karen@fleur.org.za

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.


Datum gepubliseer: 06/02/2025

VRYWARING

JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here