Geskryf deur: FEBA Radio SA
Artikelbron: JUIG! Tydskrif

Abi* was een van die vele Moslem-luisteraars van FEBA Mali se radiostasie, KanuYah FM Sollo. Toe sy ernstig siek word, het haar familie hulp gesoek op die gewone plekke – mediese dokters, hospitale en maraboes, Moslem heilige manne wat amulette verkoop om bose geeste en siektes af te weer. Niks het gewerk nie. Abi, wat deur KanuYah FM gehoor het van die krag van Christelike gebed, het haar huiwerige familie oorreed om ’n pastoor te kontak. Hy het gekom. Hy het gebid. Abi het herstel. Abi sê dat Jesus nou in beheer is van haar lewe. “Ek hoop dat my familie Hom ook in hul lewens sal toelaat soos hulle elke dag na KanuYah FM luister.”

Die grootste onbereikte groep
Daar is ongeveer twee miljard Moslems wêreldwyd, wat hulle die grootste onbereikte groep maak. Met FEBA se missie om Christus deur media na die onbereikte wêreld te bring, maak Moslems dus ’n groot deel van ons bediening uit. Van Moslemlande in Afrika en Asië tot lande soos Rusland, wat 14 miljoen Moslems het, gebruik FEBA elke deur wat God oopmaak om die Goeie Nuus te deel. Die werk is uitdagend, in sommige gevalle is daar ’n bedreiging van geweld. James*, ’n FEBA-vennoot wat in ’n Moslemland in Suidoos-Asië werk, erken: “Ons word getoets op die gebied van volharding, om nie moeg te word om [goed] te doen nie.” Hoekom is dit so moeilik om Moslems met die Goeie Nuus te bereik?

Op soek na die waarheid
Om ’n gelowige te word gebeur in drie stappe: jy soek die waarheid, jy vind die waarheid en jy aanvaar dit. Die eerste stap bied reeds ’n probleem vir die meeste Moslems: eerstens, omdat hulle onbewus is van alternatiewe tot wat hulle glo; en tweedens, as gevolg van vrees. Die meeste Moslems woon in Moslemlande, soos die een waarin James tans werk, waar hul samelewings insulêr is. “In hierdie nasie het die mense nie die vryheid om te kies wat hul geloof is nie. Hulle geloof sal altyd die geloof van hulle vaders, hulle familie en hulle volk wees. En hulle wette is baie streng, so hulle kan absoluut nie verander nie.”

Vrees en haat
Vrees bepaal Moslems se reaksie teenoor dié wat die Islamitiese geloof bevraagteken, of erger nog, hulle tot Christus wend. Wanneer ’n mede-Moslem ’n volgeling van Christus word, kan dit uiteindelik teen hul familie of gemeenskap gehou word. Hierdie vrees kan so intens word dat dit aanleiding gee tot gewelddadige vervolging en hartverskeurende verwerping. Een FEBA-luisteraar in Mali deel: “God weet hoe lief ek hierdie [Christelike] godsdiens nou het en ek wil ’n Christen word. My familie is egter almal Moslems en sal my haat as ek Islam vir Christenskap verruil. Bid asseblief vir my.”

Die waarde van uitsaaimedia
Hierdie risiko’s maak radio- en aanlyn uitsendings noodsaaklik. Dit bied ‘n veilige manier vir soekers om die Evangelie te hoor en meer oor Christenskap te leer sonder om ongewenste aandag op hulself te vestig. ’n Luisteraar in Eurasië skryf: “Julle video’s is wonderlik! Ek het lank gesoek na iets soos dit! Julle het my antwoorde gegee op vrae wat niemand anders kon beantwoord nie. God ondersteun my deur julle, al is julle Christene en ek ’n Moslem. En nou het ek begin om in die geheim die Bybel te lees.”

Massa-redding deur FEBA
In sommige gevalle ontdek hele gesinne of selfs dorpe Christus deur FEBA se uitsendings. “Ons het vroeër Christene in ons dorp gehaat,” merk ’n voormalige Yao Moslem op. “Nadat ons na Litala FM [FEBA Malawi] geluister het, is ons dankbaar om ons fout te erken en ons het Hom in ons lewens aanvaar deur na Yao-programme te luister.”

Die waarheid breek deur die vrees en trek mense na God
“Hulle vriende sê: ‘Moenie by hulle rondhang nie, jy sal ’n Christen word’, “ sê James. “Maar baie van hulle wil steeds met ons kuier en na ons luister, en betrek ons en word ons vriende, omdat hulle die verskil in ons lewens gesien het.” As ’n Moslem die waarheid gesoek het en dit gevind het, wat is die beste manier om verlossing aan te bied sodat hulle dit kan aanvaar?

Beveg vrees met liefde
Die Bybel leer “volmaakte liefde verdryf vrees” (1 Joh 4:18), en dus word liefde die sleutel. James het keer op keer die krag van liefde en die opoffering wat nodig is om mense na Christus te bring, gesien. “Die manier waarop ons verlossing die beste kan verstaan, is deur ander mense lief te hê. Wanneer ons onder hierdie mense dien… word ons getoets, ons offer op… En dan moet ons aanhou liefhê. Ek moet voortdurend gewortel wees in Christus se liefde.” Om dit te doen, moet ons die aard van Christus se liefde begryp. “As [ons] Jesus meer wil verstaan, moet [ons] meer soos Hy wees en diegene wat ons verag liefhê en dien.” Die liefde van Christus maak dit vir mense soos hierdie FEBA Kazakhstan-luisteraar moontlik om hierdie wonderbaarlike woorde te spreek: “Dankie vir julle programme wat my na Jesus gelei het. Ek was ’n Moslem, maar nou leef Christus in my hart.”
*Name verander vir veiligheid

VAT HANDE MET FEBA
Indien jy ’n skenking vir hierdie lewensveranderende projek wil maak, besoek asseblief ons webtuiste febaradio.co.za of skakel 012 335 5708

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.


Datum gepubliseer: 22/11/2024

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here