Geskryf deur: Radio Tygerberg 104FM
Artikelbron: Artikel verskaf
Radio Tygerberg 104FM kondig met trots aan dat die veelbekroonde gospelkunstenaar, Michael W. Smith, Junie 2023, Suid-Afrika besoek met die Waymaker-toer. Daar sal slegs twee optredes tydens hierdie toer plaasvind.
“Dit is vir ons ’n absolute voorreg om ’n ikoon in die gospelmusiekbedryf weer na Suid-Afrika te bring,” vertel Hardus Zevenster, die hoof- uitvoerende beampte van die Bloudruk Groep wat Radio Tygerberg 104FM, GrootFM 90.5 en Die Groot Ontbyt insluit. “Ons sien baie daarna uit om duisende Christene in die teenwoordigheid van God te bring en saam die Here te aanbid met die bekende musiek van Michael W. Smith”.
Rikus van Rooy, stasie- en programbestuurder van Radio Tygerberg 104FM is ook opgewonde om deel te vorm van die span agter dié geleentheid se reëlings. “Michael W. Smith het oor die jare ’n groot uitwerking gehad op die gospelmusiekbedryf. Sy musiek word daagliks wêreldwyd gespeel, in kerke gesing en bring mense met verskeie agtergronde nader God.”
Smith is die wenner van drie Grammy-toekennings, 45 Dove-toekennings sowel as ’n toekenning vir sy lewenslange bydra as liedjieskrywer. Tot op hede het hy 31 nr. 1-trefferliedjies gehad, 14 goue albums, 5 platinum albums en is wêreldwyd bekend vir treffers soos “Open the eyes of my heart”, “A New Hallelujah”, “The Heart of Worship” en natuurlik “Waymaker”.
Kaartjies vir beide GrandWest en Moreleta Park is beperk en verkoop vinnig, dus word mense aangemoedig om so gou moontlik hul kaartjies by iTickets.co.za te koop voor dit te laat is.
Hy tree 9 Junie by Moreleta Kerk, Pretoria op en 10 Junie by GrandWest Arena, Kaapstad. Kaartjies is nou by iTickets.co.za beskikbaar.
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 16/04/2023
Foto verskaf
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.