Geskryf deur: Almarie du Preez
Van vroegoggend tot laataand reis luisteraars in die geselskap van Kaapse Kansel 729AM. ‘n Betroubare, relevante gunsteling wat die Evangelie vir die afgelope 12 jaar tot binne in die woonkamers, voertuie en werksplekke van ons getroue luisteraars neem. Maar het jy al ooit gewonder wat dit verg om elke dag inhoud en musiek te lewer wat God verheerlik?
Altyd gereed
Die luisteraars hoor dit wat op die lug uitgaan, die vrolike stemme van hul geliefde omroepers asook die klanke van hul gunstelingliedere. Maar wat “agter” die luggolwe gebeur neem ’n geoliede span wat 24 uur per dag gereed staan om te doen wat nodig is om 24 uur per dag op die lug te wees.
Die span agter die klank
“Agter” die luggolwe staan ’n tegniese span wat naas opnames enige tyd van die dag inspring sou tegnologie faal. Omroepers wat hul lewens daaraan toewy om te verseker hul karakter weg van die mikrofoon getuig van hul karakter agter die mikrofoon, en ook hul persoonlike uitdagings by die ateljeedeur agterlaat om luisteraars ten volle te dien. Vrywillige bydraers wat tyd afstaan om hul professionele kennis en kundigheid gratis met luisteraars te deel. Besigheidskonsultante wat ten spyte van ekonomies uitdagende tye op die water loop om adverteerders te werf wat in ons roeping glo.
Divers maar verenig
Die daaglikse operasionele funksies word hanteer deur ’n klein aantal kantoorpersoneel wat elkeen, onder leiding van stasiebestuurder Wanda Bam, hul unieke vaardighede aanwend sodat luisteraars van relevante inhoud, perspektiewe en be-kroonde kwaliteitprogramme voorsien kan word. Soos die liggaam van Christus is geen spesifieke aspek belangriker as ’n ander nie en verstaan en respekteer elke spanlid dit so.
Buite die ateljee
Ons taak is nie beperk tot die luggolwe nie. Dis die hart van Kaapse Kansel om sigbaar in die gemeenskap te wees. Daarom fokus gemeenskapsprojekte op hulpverlening, bewusmaking en opvoeding wat die unieke behoeftes van ons mense aanspreek. Ons programme bied die geleentheid vir orga-nisasies en bedieninge om saam te gesels oor die landskap van ons gemeenskappe sodat ons saam steun kan bied.
Harde werk en vertroue in God
Agter die luggolwe leef ‘n span wat saam met ons luisteraars in volle vertroue staan vir God se voorsiening in gereedheid om die harde werk voort te sit vir die behoud van jou geliefde stasie, Kaapse Kansel 729AM.
Vat hande met Kaapse Kansel
Ons doen ’n beroep op elke luisteraar, skenker en adverteerder om ons hand te neem sodat ons kan aanhou om die boodskap van hoop en verlossing deur Christus die wêreld in te stuur. Indien jy deel wil vorm van ons SOS-veldtog (Steun ons Stasie), stuur ’n WhatsApp na 081 729 1 657 en begin jou boodskap met “SOS”, jou naam en die bedrag. Besoek ons webwerf vir meer besonderhede of stuur ‘n e-pos na info@capepulpit.co.za

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.
Datum gepubliseer: 14/09/2024
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.








