Geskryf deur: Karli du Toit
Artikelbron: JUIG! Tydskrif

Ek dank die Here vir wonderlike, Godvresende ouers wat my in die weë van die Here grootgemaak het, maar ek het wel in my vroeë 20’s tot die besef kom dat inligting en kennis oor God nie dieselfde as ’n intieme verhouding met Hom is nie. Dit is slegs hier waar ware transformasie kon begin.

Ek het geweet, Hy roep mý
Ná skool het ek Kelderbestuur en -tegnologie by Elsenburg gaan studeer. Tydens my laaste semester was ek soos die spreekwoordelike hond wat ’n voertuig gejaag het: Ek het geen idee gehad wat ek gaan doen as ek dit eers gevang het nie! Toe Raymond Lombard, ons pastoor, egter tydens ’n kerkdiens ’n aankondiging oor die Koinonia Discipleship Training Academy (KDTA) maak, het dit gevoel asof my hart buite my liggaam klop. Net daar het ek geweet die Here roep my…

Groot besluit om te neem
Die samelewing het ’n manier om jongmense in ’n boks te druk: skool, universiteit, werk. Ek hou egter daarvan om buite die boks te dink. Geen boks nodig nie. Daarom was my beste “kopskoonmaker” wanneer my fiets se wiele die grondpad van Elsenburg slaan. Ek het tot by die wingerdseksie gery en tussen die groen wingerde gaan sit om vir leiding te bid. Natuurlik het die vyand ook twyfel gesaai. In daardie stadium het ek ’n werksaanbod as parshulp oorweeg en selfs die geleentheid om my eie besigheid in die wynindustrie te begin. Op die ou einde het my siel bonatuurlike vrede gevind in Matteus 6:33: “…maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.”

Nuwe wyn vir ’n nuwe seisoen
Ná gebed en vas het ek toe besluit om die diensjaar vir Christus te doen: To live a life that can change the eternity of someone else, want Jesus verwag nie baie nie. Hy verwag alles! En daarom, voor ek eendag weer self wyn maak, wou ek hierdie jaar by die Een leer wat water in wyn verander het; die Een wat nuwe wyn uit my kan voortbring.

Intensionaliteit
Een van die belangrikste dinge wat ek vanjaar geleer het, is intensionaliteit – om geestelike dissiplines (Bybellees, bid, vas en aanbidding) te prioritiseer en die opdrag in Matteus 28:19 doelgerig te gehoorsaam – nie net wanneer jy op ’n “uitreik” is nie. Die opdrag geld wanneer jy gaan petrol ingooi of brood koop of wanneer jy langs die strand gaan stap. Enige tyd, enige plek. Bid net en vra: “Here, is daar iemand wat U wil bereik? Is daar iemand vir wie U iets wil sê?” Ons is so geneig om te sê: “Ek is ’n introvert” of “Ek is skaam.” News flash; jy is nie ’n introvert of ’n ekstrovert nie. Jy is ’n Christen. Waarom sal ons die Goeie Nuus net vir onsself wil hou? Daarom is intensionaliteit ’n ernstige buzz word hier by Koinonia; amper soos sooibrand – dit hou aan terugkom!

Wat ek buite my gemaksone ontdek het
Daar was soveel hoogtepunte, maar die Ignite-konferensie in George, behartig deur die evangelis Pickard Henn, het my uitgedaag om buite my gemaksone te beweeg. Ek het nog nooit voorheen op straat geëvangeliseer of vir mense gebid nie. Ek het ontdek hoe om sensitief te luister na die fluistering van die Heilige Gees en hoe die Here ons as ’n instrument kan gebruik om ander te bedien! Aanvanklik is dit vreesaanjaend om met wildvreemde mense te praat en vir hulle te bid, maar wanneer jy eers die vreugde smaak om te sien hoe iemand deur die Here se liefde aangeraak word – wanneer jy besef die krag kom nie van jou nie – word dit al hoe makliker. Ons kan nie wegkruip wanneer Jesus iemand se hart wil aanraak en hulle nooi om sy kind te word nie – om van die weeskind ’n Koningskind te maak nie.

Onvergeetlike herinneringe
Tydens die diensjaar by Koinonia Discipleship Training Academy word hartsvriende gemaak. Aanbidding om die kampvuur onder leiding van Michael Lindt, uitreike na die ouetehuis, kinderhuis, skooltjie vir kinders met Downsindroom en om sop en brood vir veiligheidswagte te neem en vir hulle te bid, vorm alles onvergeetlike herinneringe.

Ek raai ander jongmense aan – doen die diensjaar. KDTA soek jóú. ’n Kurrikulum wat emosionele gesondheid, oorsig van die Nuwe Testament, missiologie, apologetiek, die geesteswêreld, die Heilige Gees en nog vele ander onderwerpe dek, help jongmense om ‘n gegronde teologiese raamwerk te vorm. En dit berei jou nie net vir die huwelik en leierskap voor nie, dit het ’n verdere rimpeleffek. Dit gaan jou ouers, jou sibbe, jou familie en vriende ook beïnvloed – trust me! Ons is geseën om ’n seën te wees: vir die gemeenskap, ons familie en vriende.

Laat jou lig skyn!
Matteus 5:16 sê ons moet ons lig voor die mense skyn. Koinonia is soos die skakelaar in enige jongmens se lewe wat hom/haar in staat stel om God se lig deur hulle lewe te laat skyn. You were called to shine. Not shy away!

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.

> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.
 

Datum gepubliseer: 30/12/2023
Foto’s: Koinonia Discipleship Training Academy

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here