Geskryf deur: Daniel Kolenda
Artikelbron: JUIG! Tydskrif
Oor die laaste paar uitgawes was dit vir ons ’n groot vreugde om baie stories van God se getrouheid met julle te deel. Dit het vir julle ’n klein kykie gegee in ons ongelooflike 50ste jaar. Julle het die skares gesien, van die kragtige wonderwerke beleef, en gehoor van die verstommende reddingsgetalle – meer as 7 miljoen gedokumenteerde besluite vir Jesus in net een jaar!
Julle het ook gelees wat dit gekos het om by daardie getal uit te kom. Ons span het groter uitdagings as ooit tevore ervaar. Dit is te verwagte – om na die buitengewone te streef kom met ’n buitengewone prys. Dit vra opofferings op elke vlak, nie net finansieel nie. ’n Persoonlike prys is betaal deur elke spanlid wat tyd saam met hul gesinne opgeoffer het, dikwels maande aaneen. Ander het met hulle eie liggame die prys betaal, terwyl hulle gely het aan malaria en ander siektes wat endemies aan Afrika is. Sommige is fisies aangeval omdat hulle die Evangelie verkondig het. Baie het ook aanvalle op hul gesinne tuis verduur.
Vissers van mense
Net soos Simon Petrus en Andreas, het hierdie manne en vroue van God alles agtergelaat om Jesus te volg en vissers van mense te word. Saam het ons ons nette keer op keer uitgegooi, en die vangs was so groot dat die nette begin skeur het! Soos Reinhard Bonnke in Evangelism by Fire geskryf het: “Dit is soos visvang. Tydens ons Evangelieveldtogte sê ek altyd dat ons, die evangeliste, ons nette bring, maar ons gebruik die bote van die plaaslike kerke. Saam met hulle vaar ons uit en bring ’n magtige vangs in. Dan vertrek ons. Ons gee eenvoudig die vangs oor aan die plaaslike kerke. Ons maak ons nette leeg, herstel dit en maak dit droog, en gaan help iewers anders. Die evangelis self wen niks nie, behalwe die vreugde en beloning om te sien hoe die Koninkryk van God oral om ons groei.”
Tyd om die nette reg te maak
Soos ons nou gereed maak vir die Evangelieveldtogte wat hierdie jaar plaasvind, is dit tyd om die nette reg te maak sodat ons dit weer kan uitgooi op plekke wat nog onbereik is met die Evangelie. 2024 het ‘n enorme tol op ons toerusting geëis. Jy onthou dalk hoe uitdagend dit in die Kongo was, waar die slegte “paaie” letterlik ons vragmotors uitmekaar geskud het en een van ons groot kragopwekkers verwoes het.
Die skade was so erg dat ons drie van ons vragmotors in die Kongo moes los. Dit het duidelik geword dat ons slegs na lande soos die Kongo kan terugkeer as ons vragmotors het wat die strawwe Afrikatoestande kan weerstaan. Daarom het ons, in geloof, twee militêregraad-vragmotors bestel, aangepas vir ons veldtogtoerusting. Omdat die vragmotors plaaslik in Kenia aanmekaargesit word, hoef ons nie vir versending en doeane te betaal nie, wat die koste effektief halveer. Hierdie vragmotors is deurslaggewend vir die toekoms, en ons het hulle nou nodig.
Nie net herstel nie – uitbreiding!
Oor die afgelope paar jaar het ons ons toerusting radikaal verander en vergroot om aan die groeiende behoeftes van die bediening te voldoen. Toe ons begin het met gelyktydige veldtogte in Afrika, moes ons een enorme verhoog en klankstelsel in kleiner eenhede opbreek. Ons het nou vier volledig toegeruste vragmotors wat groot skares kan hanteer. Maar dit is nie naastenby genoeg nie! Ons doel is om drie pare vragmotors te hê wat veldtogte individueel of gekombineerd kan hanteer, afhangende van die verwagte skaregrootte.
Die twee nuwe terreinvragmotors moet nog toegerus word met alles wat nodig is om ’n Evangelieveldtog te voer: klank, verhoog, ligte, ensovoorts. Dié proses is reeds aan die gang. In ons pakhuis in Kenia wag agt nuwe luidsprekers en twee kragopwekkers wat verlede jaar verskeep is, dankie dat jy ons gehelp het om dit te kan doen! Ons gebruik elke stukkie toerusting wat ons het en ons benodig nog baie meer. Die onmiddellike behoeftes sluit in:
• Twee nuwe klanktorings
• Twee nuwe verhoogstelle vir die nuwe vragmotors
• Ses klein rugsteun-kragopwekkers, een vir elke vragmotor
• Twee nuwe terreinvragmotors
Ons moet gereed wees…
Aan die begin van hierdie dekade het ons een groot stelsel gehad, een reusenet. Maar die vermenigvuldiging wat God beloof het, gebeur vinnig. Dit voel of ons reeds in die middel daarvan is ná alles wat ons verlede jaar gesien het, maar die waarheid is dat ons nog net aan die begin is! So vinnig as wat die Here arbeiders vermenigvuldig, moet ons ons nette uitbrei en vermeerder. Ons moet gereed wees, sodat wanneer die Here sê: “Gooi die net aan die ander kant uit,” ons kan antwoord: “Ja, Here!” en die hele vangs inbring.
Klim saam met ons in die boot!
Jy kan vandag help met hierdie dringende behoeftes – en dankie uit die diepte van my hart as jy dit reeds doen. En as jou hart geroer is, klim in die boot saam met ons en word ’n maandelikse vennoot van CfaN! Getroue maandelikse vennote is ’n geweldige seën wat ons in staat stel om vir die lang termyn te beplan en te begroot. En moet asseblief nie ophou bid vir ons nie!
Die werk is eers voltooi wanneer Jesus terugkom! Jy kan deel wees van hierdie groot oes deur vir ons te bid en die bediening finansieel te ondersteun.
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.
Datum gepubliseer: 16/02/2025
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.