Geskryf deur: FEBA Radio
Artikelbron: Verskaf
Die legendariese evangelis, Billy Graham, het gesê: “As jy onkundig is oor God se Woord, sal jy altyd onkundig wees oor God se wil.” Die Bybel gee vir ons onderrig, wysheid, God se beloftes en die verhaal van Sy ewigdurende liefde. Soos FEBA Filippyne dit stel: “God’s Word is the source of H.O.P.E. (Harmony, Obedience, Peace, and Empowerment).”
Maar wat as jy nie kan lees nie?
In Afrika is dit geen geringe vraag nie … in die lande waar FEBA werk, is dit inderdaad miljoene mense se realiteit. Die volgende is ’n prentjie van ongeletterdheidsvlakke onder mense van 15 jaar en ouer, volgens die Wêreldbank se jongste data:
- Malawi ± 31%
- Mali ± 69%
- Mosambiek ± 40%
- Niger ± 65%
- Soedan ± 40%
- Tsjad ± 70%
Daar is ook ‘n groot verskil tussen mense in stedelike en landelike gebiede, terwyl die verskil in geletterdheidsvlakke tussen mans en vrouens in lande wat oorwegend Moslem is, veral uitstaan. Armoede en ongeletterdheid het ’n vernietigende kringloop geskep:
- ‘n lae geletterdheidsyfer beteken minder onderwysers, daarom moet kinders lang afstande aflê om by die skool te kom, wat maak dat baie moed opgee;
- diegene wat wel skool kan bywoon, het min ondersteuning by die huis omdat die ongeletterde ouers hulle nie met huiswerk kan help nie; en
- weens ongeletterdheid bly dié ouers in swak-besoldigde werksituasies en haal hulle kinders dikwels uit die skool sodat hulle eerder kan gaan geld verdien.
Só word die volgende geslag groot met swak geletterdheid en nog swakker vooruitsigte.
Hoe kan hulle dan hoop vind in God se Woord?
Die eenvoudige antwoord is: deur gehoor. Radio en oudio-Bybels gee aan mense toegang tot God se Woord sonder dat hulle hoef te kan lees. FEBA voorsien nie net Skrif nie maar ook besprekings wat luisteraars help om die Bybel beter te verstaan.
“Ek het nog nooit skoolgegaan nie en ek verstaan net my dialek,” vertel ‘n 21-jarige FEBA-luisteraar in Niger onlangs. Hy het FEBA Niger se stasie toevallig ontdek terwyl hy op sy selfoon radio geluister het. “Die aanbieder het in my dialek gepreek en dit het my aangeraak, toe besluit ek om hom te skakel. Hy het my in ’n belydenisgebed gelei om my hart vir Christus te gee.” [NOTA: Hierdie jong man is deur sy familie verwerp nadat hy ’n gelowige geword het, en het ons versoek om vir hom te bid.]
’n Luisteraar in Mosambiek vertel van ’n soortgelyke belewenis: “Die vermoë om die evangelie in my eie taal op die radio te hoor het nie net my begrip van God se Woord vergroot nie, maar het ook my geloof versterk… Ek wil graag ander mense in my gemeenskap, wat dalk sukkel om te lees, aanmoedig om die vreugde te ervaar, van na die evangelie te kan luister op die radio of deur oudio-Bybels. Dis ’n heerlike manier om in te skakel by God se boodskap.”
Besoek gerus febaradio.co.za vir meer inligting.
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.
Datum gepubliseer: 18/01/2025
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.








