Geskryf deur: Gerda Potgieter
Artikelbron: 
Verskaf 

Keegan Pillay is al ‘n paar keer deur die lewe se meule, maar het goed aangepas aan die ander kant uitgekom. Terwyl ek in sy sagte oë kyk terwyl hy my sy lewensverhaal vertel, vind ek dit moeilik om te glo dat hy eens ‘n hardkoppige misdadiger was sonder respek vir ander se lewe. Daar was ‘n tyd toe hy die naam wat sy vriende hom gegee het – ‘Lucifer’ – gestand gedoen het en selfs gekoester het.

Keegan is van kleins af aan alkohol en flieks met gewelddadige inhoud blootgestel. Hy het ook op die jong ouderdom sigarette begin rook, en was vroeg in sy lewe aan dwelms verslaaf en het gou begin steel om sy slegte gewoontes te ondersteun. Hy het dikwels geweld gebruik om te kry wat hy nodig het.

Keegan sê hy het hard gewerk om sy bynaam gestand te doen en geen genade aan ander betoon nie. Op ‘n jong ouderdom is hy gevangenis toe gestuur vir poging tot moord, en in die gevangenis het hy by dwelmhandel betrokke geraak. Die afwaartse spiraal het voortgeduur, selfs nadat hy vrygelaat is. Hy het vir lank saam met die land se bekendste en grootste skurke rondgehang en selfs vir sommige van hulle gewerk. Hy het ook vir Nigeriërs gewerk. Weens sy agtergrond was dit sy werk om die dwelmbase se geld van verslaafdes te verhaal en om dit gewelddadig te doen.

Keegan vertel, “Vir my het die keerpunt in 2015 gekom. Ek was op straat, en my gesondheid het vinnig agteruitgegaan. Ek het besef dat ek beheer verloor het, en hoewel ek in die Hindoe-geloof opgevoed is, het ek eendag toe ek die bodem bereik het, na die Here Jesus geroep om my te help. Ek was toe dakloos en het van tyd tot tyd by my broer gebly. My broer het my vertel van die KwaSizabantu-sendingstasie in Kranskop, KwaZulu-Natal se CYPSA restorasieprogram. Hy het iewers gehoor dat die program baie suksesvol is. Ek het nie veel daarvan geweet nie, maar ek het geen ander uitweg gesien nie.”

16 Oktober 2015 sal altyd ‘n buitengewone dag vir Keegan wees. Daardie dag het sy broer hom in sy motor gelaai en hom na die sendingstasie geneem. Die dag was die begin van sy nuwe lewe, al het hy toe aan die onttrekkingsimptome van heroïen gely.

“In my lewe het ek nog nooit so iets ervaar nie,” sê Keegan. “Die respek en aanvaarding wat ek van vreemdelinge ontvang het, was vir my ongekend. Hierdie mense het my nie geken nie, maar het my onvoorwaardelik verwelkom en aanvaar. Ek weet nie van ‘n ander plek waar ‘n verslaafde so onvoorwaardelik en sonder enige betaling vir die herstelprogram opgeneem word nie. Toe ek gevra het hoeveel dit sou kos, is daar vir my gesê dat Jesus reeds vir my aan die kruis betaal het.”

Keegan werk nou by een van die sending se landbouprojekte in die soetrissie- kweekhuise, onder die Emseni-sambreel – een van die grootste soetrissieprodusente in die land. Dit is nou meer as ‘n dekade later, en hoewel daar dae was wat dit ekstra moeilik was om op die regte pad te bly, het Keegan uiteindelik sy ou lewe gegroet. Hy werk hard en het ‘n diploma in voedselproduksiediploma voltooi. Hy is nou ook in staat om vir sy bejaarde ma te help versorg. Sy ware karakter kom na vore wanneer hy oor sy werk in die kweekhuise praat. Sy gesig helder op, en sy oë vertel onvertelde stories van genade en doelgerigtheid. En daar is geen teken van ‘Lucifer’ nie.

(Die Concerned Young People of South Africa (CYPSA) volg ‘n intense holistiese herstelprogram wat op Bybelse beginsels geskoei is. Deelnemers moet hulle tot die program verbind, maar dit is gratis. Die hoofdoel is om hulle toe te rus om die uitdagings van die lewe te weerstaan.)

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.


Datum gepubliseer: 17/04/2025
Foto slegs ter illustrasie: unsplash.com

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here