Geskryf deur Gerda Potgieter; Doctors for Life
Betroubare gesondheidsorg was vir baie lank buite bereik van die gemeenskap in die afgeleë Chikuluma-gebied in die suide van Malawie, maar hulp het opgedaag. Dokters vir Lewe Internasionaal bou nou ‘n permanente kliniek in hierdie gebied deur middel van sy Hulp aan Afrika-program (Aid to Africa) . Die kliniek, wat binnekort sal open, weerspieël ‘n blywende verbintenis tot ‘n gemeenskap waar selfs basiese gesondheidsorg moeilik bekombaar is. Die kliniek sal noodsaaklike mediese sorg nader bring aan mense wat min – indien enige – toegang daartoe gehad het nie, en sodoende langtermyn-gesondheidsverbeterings verseker.

Die Christengebaseerde organisasie se mediese bystand aan die verwaarloosde Chikuluma-gemeenskap oor jare heen was nooit bedoel as ‘n eenmalige onderneming nie; vrywilligerspanne het reeds in 2016 met uitreike na hierdie gemeenskap begin. Die spanne het Chikuluma in die Machinga-distrik as hul basis in Malawi gebruik en mettertyd gereelde gesondheidsorg, medisyne, mediese voorrade en mediese opleiding verskaf terwyl hulle die Woord van God aan die gemeenskap gebring het. Die dienste is eers vanuit ‘n mobiele fasiliteit gelewerben later ‘n skeepshouer, terwyl hulle bly werk het aan planne om ‘n langtermyn-infrastruktuur te ontwikkel. Die visie het ontstaan nadat die gemeenskapsleiers die Dokters vir Lewe-span versoek het om ‘n meer permanente bystand te lewer.
Die nuwe kliniek, wat op jare van vertroue gebou is, sal uiteindelik ’n gedeelde visie in werklikheid omskep. Die visie is om permanente klinieke in afgeleӫ gemeenskappe in Afrika te bou waar gesondheidsorg skaars en dikwels selfs onbekombaar is.


In 2019 het die Dokters vir Lewe-span ‘n skeepshouerkliniek in Chikiluma ontplooi en begin om medisyne, mediese voorrade en roetine-gesondheidsorgdienste te verskaf. In 2022 het hulle muskietnette en mediese voorrade in Chikuluma uitgedeel voordat hulle na hul kliniek in Mosambiek gereis het vir nog ‘n uitreik. Mediese vrywilligerspanne het voortgegaan om die Chikuluma-gemeenskap te besoek tot 2024, toe hulle hul mediese werk moes opskort weens beperkinge. Daardie beperkings is later opgehef, wat dit vir die span moontlik gemaak het om voort te gaan met die planne vir die bou van ‘n permanente kliniek.
Die registrasie van ‘n nie-winsgewende gesondheidsorgorganisasie in Malawi is gefinaliseer, wat die span in staat gestel het om grond te bekom en te begin met die bou van ‘n permanente kliniek wat aan die vereistes van die Malawiese Departement van Gesondheid voldoen. Die kliniek is tot stand gebring as gevolg van die span se volgehoue verbintenis met die behoeftige gemeenskap en hul versoek om langtermynmediese ondersteuning. Korttermyn-mediese uitreike het nou ontwikkel tot ‘n meer permanente mediese fasiliteit waar toepaslike chirurgiese prosedures uitgevoer kan word.
Die Dokters vir Lewe organisasie is in 1991 gestig “om die heiligheid van lewe te handhaaf, gesonde wetenskaplike praktyke te bevorder en Judeo-Christelike etiek binne
die mediese beroep te bewaar.” Dr. Abu van Eeden is tans die uitvoerende hoof, bygestaan deur ‘n span ondersteuners. Die organisasie het wêreldwyd meer as 1 500 lede (mediese praktisyns, tandartse en veeartse) wat dieselfde waardes deel.
Die organisasie het ‘n lang geskiedenis van humanitêre projekte en Evangelisasiewerk in Afrika. Sedert 2001 het die organisasie gratis sorg aan 250 000 pasiënte in sewe lande verskaf, terwyl hulle ook die liefde van Jesus met hulle deel. Tydens die uitreike doen vrywillerspanne mediese ondersoeke, algemene behandelings, kraamsorg, tandheelkundige prosedures en versprei brille. Benewens hierdie mediese dienste, prioritiseer die organisasie die herstel van sig. Dit is ‘n ingrypende verandering in die lewens van diegene wat vir baie jare blind was, en verskeie hartroerende verhale word gehoor. Mediese uitreike duur gewoonlik 2–4 weke en behels lang reise oor swak paaie en mediese werk in uiters uitdagende omstandighede.
Die hoofdoel van Dokters vir Lewe om permanente mediese fasiliteite te vestig wat gratis gesondheidsorg in hulpbronbeperkte gebiede bied vorder stadig, maar vir seker. Die Centro de Saúde de Sihane, wat in 2009 in Zavora, Mosambiek, geopen het, was die organisasie se eerste permanente mediese kliniek. Sedert sy ontstaan het die kliniek jaarliks meer as 24 000 pasiënte bygestaan. Die kliniek in Malawi is die tweede permanente kliniek in Suider-Afrika en is deel van ‘n volhoubare gesondheidsorgmodel wat ‘n blywende teenwoordigheid in die streek verseker.
Besoek die webwerf vir meer inligting: www.doctorsforlife.co.za

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken
> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.
Hoof foto verskaf deur Doctors for Life
Datum gepubliseer: 12/10/2026
VRYWARING JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.








