Khayelihle Mhlongo Is 30 jaar oud en het ‘n lang pad gestap tot waar hy sy lewe drasties verbeter het en nou ‘n lewe vir God leef – ‘n lewe vry van woede, dwelms en misdaad. Dit is sy storie:
“As kind was ek altyd kwaad en het my ouers ‘n moeilike tyd gegee. Ek het ‘n wrok teenoor my ma gekoester. Van kleins-af was ek ’n bakleier en het later ’n bendeleier geword. Ek was maar 16 jaar oud toe ek vir die eerste keer in die gevangenis beland het. Almal was bang vir my. Omstreeks 2016 het ek die huis verlaat en Johannesburg toe gegaan. Ek het al hoe meer begin drink. My broer het dwelms verkoop, en ek het by hom in 2018 aangesluit. Die dwelmbaas het uiteindelik my broer vermoor.
“Ek het in 2019 teruggegaan huis toe, maar baie gou het ek al die geld wat ek deur dwelmhandel verdien het, opgebruik. Ek was gebroke en haweloos en het onder brue geslaap. Ek het by huise begin inbreek, en teen daardie tyd was ek verslaaf aan verskeie dwelms. Ek was genoodsaak om na Johannesburg toe terug te keer omdat ek geld nodig gehad het. Ek het by ‘n bende rowers aangesluit. Ek het vinnig in misdaad opgang gemaak, groot besighede begin beroof en gou ’n passie vir misdaad en vinnige geld ontwikkel. Ek het dwelmhandel verlaat en op misdaad gefokus, waar ek mense beroof en seergemaak het.

“Ek het kerkdienste in Daveyton begin bywoon, maar dit het ook vir my geen vrede gebring nie. My jonger broer het ‘n voorliefde vir bedrog gehad, en hy het ook dwelms verkoop. Ek het by hom aangesluit, maar my liefde vir misdaad was weg. Ek het teruggegaan Johannesburg toe en weer by my vriende aangesluit, maar nou het ek bedrog gepleeg terwyl ek terselfdertyd dwelms verkoop het.
“In Augustus 2023 het my lewe begin verbeter toe my ouers my na die KwaSizabantu Sending gestuur het vir hulp met my verslawing. Dit was ook my keuse om hierheen te kom. Hulle het my aanvaar vir wie ek is en my gehelp om van die demone in my en ook die verslawings ontslae te raak. Ek wil nou God se manier leef.”
Khayelihle vertel dat KwaSizabantu sy besluite en optrede beïnvloed het wat tot sy nuwe lewe gelei het. Hy glo vas dat individue slegs hul lewens suksesvol ten goede kan verander as hulle Jesus in hul lewens verwelkom. Volgens hom is die beduidende onderskeid tussen die Sending se CYPSA herstelprogram en rehabilitasieprogramme die klem op die vestiging van ‘n verhouding met die Here Jesus. Berading speel ook ‘n deurslaggewende rol en vorm ‘n noodsaaklike deel van die program. Khayelihle besoek steeds sy berader gereeld om te verseker hy bly op die pad na volledige herstel.
Die Sending se jeugherstelprogram sluit die CYPSA-program en die jaarlikse jeugkonferensies in wat hulle al vir vyftig jaar aanbied, tweemaal per jaar. Die konferensies bied geleenthede aan diegene wat kies om hul lewens te verander om meer oor die Evangelie te leer en die hulp te kry wat hulle nodig het.
Die CYPSA-program is gratis beskikbaar. Die enigste vereiste is totale toewyding. Die program se holistiese benadering maak ‘n wesenlike verskil. Khayelihle is een van die merkwaardige suksesverhale van die program en lei nou ‘n gelukkige lewe. Hy het gekies om by die Sending aan te bly na sy herstel en te werk. So dra hy nou produktief by te dra tot die samelewing. Hy het nie net sy waardigheid herwin nie, maar voorsien ook vir sy familie deur sy verdienste. Daarbenewens deel hy gereeld sy lewenservarings met ander om hulle te inspireer en te motiveer om hul verslawings te oorkom en beter lewenskeuses te maak.
CYPSA staan vir die Concerned Young People of SA, ‘n restourasieprogram wat deur die KwaSizabantu-sending in Kranskop bestuur word. Die inligting is verskaf deur Devoted-tydskrif – www.devotedmag.co.za
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 24/07/2024
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.