Geskryf deur: Gerda Potgieter
Artikel Bron: Verskaf
Verwerping deur die samelewing en geliefdes kan lei tot eensaamheid, lae selfbeeld, aggressie en depressie. Baie jongmense het vandag geen hoop nie, afwesige ouers en geen gesonde rolmodelle wat genoeg omgee om hulle op die regte pad te hou nie. Dit is belangrik om die Evangelie met hierdie jongmense te deel, want dit kan ‘n verskil maak.
Sbonelo Maphalala is van die plattelandse dorpie, Maphumulo in Kranskop, KwaZulu-Natal. Hy erken hy was ’n verlore siel, ’n stout kind wat nie na goeie raad wou luister nie en alle vorme van dissipline verwerp het. Hy het as jong kind met geringe misdade begin, soos om van ander kinders te steel. Die gewoonte het vinnig gegroei tot ernstiger misdade. Teen die tyd dat hy op hoërskool was, het hy in pornografie belanggestel, en dit het vinnig in ‘n algehele verslawing ontaard.
Die gevare van pornografie is dat dit kan lei tot gevoelens van skuld, skaamte en lae selfbeeld, wat kan bydra tot ‘n wye reeks ander versteurings in geestesgesondheid. Dit is nie verbasend dat hy saam met vriende begin rook het nie, en kort voor lank het hy dagga gebruik. Hy het begin swak doen op skool, en in Graad 11 het hy ‘n seun in ‘n sjebien gesteek. Hy het toe weggehardloop om nie die gevolge van sy dade in die gesig te staar nie.
In daardie tyd het Sbonelo by sy pa in Durban gewoon. Sy pa het daarop aangedring dat hy sy skoolloopbaan moet voltooi om sy doelwitte te bereik. Sbonelo moes egter Graad 11 herhaal, maar ongelukkig het hy in dieselfde negatiewe invloede teruggeval. Hy en sy sogenaamde vriende het by winkelsentrums gesteel, en hy is gevang en weens sy ouderdom na ‘n jeugdetensiesentrum toe gestuur. Dit was die begin van ‘n bose kringloop van in-en-uit die gevangenis oor die volgende paar jaar.
Om in die gevangenis te wees, het Sbonelo nie juis oortuig om sy lewe te verander nie. Ten spyte van die streng reëls en isolasie het hy voortgegaan om sigarette van buite te bekom. Hy het ook probeer ontsnap. Sy ouers was ontevrede met sy gedrag, en so hy het toe die huis verlaat om op die strand by Durban te bly nadat hy weer uit die gevangenis vrygelaat is. Om te oorleef en sy dwelmgewoontes te ondersteun, het hy mense besteel, beroof en ook by motors en huise ingebreek. Teen daardie tyd het hy ook heroïen gebruik, nog ‘n gevaarlike dwelm met ernstige gevolge.
Dinge het erger geraak tussen 2009 en 2019, dit was 10 jaar se vermorsde tyd. Hy was op pad na vernietiging. Hy het by misdadigers en duiwelaanbidders aangesluit, en dinge het van ongelooflik sleg tot baie erger gegaan. Die gevangenis het die plek geword wat hy huis genoem het. Dit is waar hy gratis kos, klere en skuiling kon kry. Hy sou ook met geweld klere en ander goed van medegevangenes afneem.
Nadat Sbonelo weer eens uit die gevangenis vrygelaat is, was hy terug op straat. Maar iemand het hom vertel van die KwaSizabantu-sending, waar hulle mense met dwelsprobleme deur middel van die CYPSA-herstelprogram help. Hy is toe na die Sending in 2021. Aanvanklik het hy net die Sondagdienste en beradingsessies bygewoon, en hy het steeds gedrink en dwelms gebruik.
“Dit was asof die predikers met my alleen gepraat het tydens die Sondagdienste,” onthou Sbonelo. “Terselfdertyd het my berader by KwaSizabantu gereeld vir en saam met my gebid, en ek kon voel hoe my laste stadig maar seker van my skouers begin lig. My berader het aanbeveel dat ek die Sending se CYPSA-herstelprogram volg, en in 2022 het ek myself daartoe verbind. Dit was nie lank voordat ek ten goede begin verander het nie, en ek het ook vergifnis gevra van diegene wie ek voorheen seergemaak het.”
Sbonelo is nou ‘n vry man, gesond en gelukkig. Hy is een van die vele vrywilligers by die Sendingstasie. Hy het gehelp tydens die 50-jaar-herdenking-geleentheid van die KwaSizabantu-jeugkonferensie in Junie 2024. Sy storie inspireer baie om in sy voetspore te volg, verantwoordelik te wees en hulp te kry vir sy probleme. Hy sê: “Ek voel tuis by die Sending waar ek nou woon, en vir die eerste keer is ek gemaklik met wat ek bereik het.”
Wat hy die meeste van KwaSizabantu waardeer, is dat hulle mense onvoorwaardelik en met liefde help. En hulle doen dit teen geen koste nie. Die mense by die Sending verwelkom diegene wat deur die samelewing verwerp word met ope arms. Hy sou seker nog op straat gewees en die publiek geterriroseer het, as dit nie vir hulle was nie.
CYPSA staan vir die Concerned Young People of SA, ‘n restourasieprogram wat deur die KwaSizabantu-sending in Kranskop bestuur word. Die inligting word verskaf deur Devoted-tydskrif – www.devotedmag.co.za
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.
Datum gepubliseer: 16/08/2024
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.