Geskryf deur: dr Michiel van der Merwe
Artikelbron: JUIG! Tydskrif
Die groepie bejaardes in die afdeling vir mense met demensie aan wie ek nagmaal moet bedien, sit voor my. Die een tannie kyk so strak voor haar uit toe ek almal vriendelik groet. Sy reageer glad nie. Ek stap nader na haar en sit my hand op haar skouer. Nog voordat ek enigiets kon sê, sê sy sonder enige emosie, maar met ’n baie ferm stem “Ek glo in Jesus!” Dis die hele gesprek. Afgehandel.
Wat is demensie?
Volgens Wikipedia is demensie “’n steuring wat tot uiting kom as ’n stel verwante simptome wat gewoonlik voorkom wanneer die brein deur besering of siekte beskadig word. Die simptome behels die progressiewe aantasting van geheue, denke en gedrag, wat iemand se vermoë om te funksioneer en alledaagse take uit te voer, nadelig beïnvloed”.
Hoe beleef mense met demensie God?
Ek wonder opnuut oor die godsdiensbelewing van mense met demensie. Wat verstaan hulle? Hoe ervaar hulle God? Hierdie tannie was so oortuig met haar eensin-getuienis. Ek het geen rede om te dink dat sy nie geweet het wat sy sê nie. ’n Persoon met demensie is meer as net iemand met ’n diagnose van demensie! Hy of sy is ’n volwaardige mens, soos enige ander. ’n Holistiese benadering help om hulle beter te verstaan en te versorg.
Die grootste geestesgesondheidskrisis van ons tyd
Daar word dikwels na demensie as die “groot vergeet” of die “hartseer siekte” verwys, vanweë die impak wat dit op die persoon self en op sy/haar familie het. Teen 2020 was daar reeds meer as 55 miljoen mense wêreldwyd wat tot so ’n mate aangetas was dat hulle nie genoeg kon onthou of helder genoeg kon dink om basiese dagtake te verrig nie. Karen Borochowitz, stigter van DementiaSA, beskou dit as die grootste geestes-gesondheidskrisis van ons tyd. Dit is tans wêreldwyd die sewende grootste oorsaak van sterftes.
Vertrekpunt
Wanneer ons nadink oor die godsdiensbelewing van ’n persoon met demensie, is die aard van daardie persoon se verhouding met die Here voordat demensie begin intree het, van deurslaggewende belang. Die teenwoordigheid van demensie gaan jou nie noodwendig nader aan die Here bring nie. ’n Gesonde verhouding met die Here voor die aanwesigheid van demensie gaan die persoon eerder in hierdie tyd dra.
Basiese geestelike behoeftes
Die geestelike behoeftes wat ’n persoon met demensie ervaar, hang ten nouste saam met die fase van demensie waarin die persoon hom/haar op ’n gegewe oomblik bevind, asook die geestelike welstand wat die persoon voor die aanvang van die siekte beleef het. Mense met demensie ervaar dikwels een of meer van die volgende geestelike behoeftes:
• ’n Soeke na troos en betekenis rakende hulle omstandighede.
• Die sin en doel van hul huidige lewensomstandighede.
• Vrae oor lewe, dood en hul persoonlike rol daarin (wat dikwels vrae oor geloofsekerheid en skuldgevoelens insluit).
• Die behoefte aan emosionele en geestelike ondersteuning neem dikwels toe, veral in die lig van ’n gevoel van isolasie.
• Die behoefte om aan godsdienstige praktyke deel te neem ten einde ’n mate van vertroosting te kan ervaar.
• ’n Begeerte na innerlike vrede om die angs wat verband hou met hulle toestand, te verlig.
Wenke om die geestelike behoeftes van demensielyers te hanteer
1 Luister
Neem met deernis en geduld deel aan hul gesprekke. Luister na hul gedagtes, gevoelens, vrese en herinneringe, en bevestig hul ervarings.
2 Help onthou
Moedig herinneringe aan oor belangrike lewensgebeure, waardes en oortuigings. Dit kan help om hul identiteit en sin vir die lewe te versterk.
3 Beoefen godsdienstige praktyke
Maak gebruik van bekende godsdienstige praktyke soos nagmaalbediening, gebed, meditasie, geestelike liedere of die lees van Bybelteksverse.
4 Skep die regte atmosfeer
Spandeer tyd in die natuur of skep ’n aangename omgewing met kuns, musiek of foto’s wat geestelik by hulle aanklank vind. Troeteldiere, veral terapiehonde, help dikwels ook om die persoon te laat ontspan. Dan is die fokus op die hond wat minder intimiderend is as om mekaar in die oë te kyk en ’n sinvolle gesprek te moet voer.
5 Maak fisiese kontak
Sagte fisiese aanraking, soos om hande vas te hou, kan warmte en emosionele verbondenheid oordra.
6 Benut elektroniese kommunikasie
Die waarde van videogrepe van familie en video-oproepe moet nie onderskat word nie.
7 Doen aktiwiteite
Gebruik aktiwiteite soos musiek om herinneringe en emosies wat aan hul geestelike identiteit gekoppel is, op te roep.
8 Identifiseer hul behoeftes
Moedig hulle aan om te deel wat vir hulle vrede en vertroosting bring, en fokus daarop. Erken dat geestelike behoeftes vir elke persoon uniek is. ’n Persoon se begrip van geloof en God kan ook met verloop van tyd verander, wat met die nodige sensitiwiteit hanteer moet word.
9 Maak gebruik van stiltes
Jou teenwoordigheid by hulle dien as bevestiging dat God self by hulle teenwoordig is.
Uitdagings wat persone met demensie kan ervaar:
• Agteruitgang van verstandelike vermoëns: Dit kan tot frustrasie lei. Geheueverlies lei dikwels tot verleentheid as hul byvoorbeeld bekende Bybelteksverse nie meer kan onthou nie.
• Uitsluiting van groepsaktiwiteite: Godsdiensbeoefening vind dikwels in groepsverband plaas. Persone met demensie word dan dikwels uitgesluit, wat tot gevoelens van eensaamheid, nutteloosheid en frustrasie kan lei.
• Emosionele reaksies: Demensie lei dikwels tot ’n wye reeks emosionele reaksies, soos angs, depressie en vrees oor die toekoms. Hiermee saam kom ook vrae oor lewe, dood en die hiernamaals (geloofsekerheid), wat dit dan vir hulle moeilik maak om ware vertroosting in hul geloof te vind.
• Kommunikasieprobleme: Demensie kan verbale en nie-verbale kommunikasievaardighede benadeel, wat dit moeilik maak om geestelike behoeftes of oortuigings uit te druk.
Die hantering van hierdie uitdagings vereis ’n deernisvolle benadering wat persone met demensie begelei om troos en betekenis in hul godsdiensbelewing te vind, veral wanneer verstandelike vermoëns afneem. Ons moet “remember to re-member”!
Voordele van godsdiensbeoefening vir persone met demensie
• Betrokkenheid by godsdienstige praktyke kan ’n gevoel van troos en gerusstelling bied. Meelewing kan persone help om gevoelens van vrees, angs en onsekerheid te verwerk.
• Godsdiensbeoefening kan tot ’n hernude doel in die lewe lei, wat persone help om betekenis in hul lewens te vind, selfs te midde van verstandelike uitdagings.
• Deelname aan godsdienstige aktiwiteite kan ’n gevoel van behoort en verbintenis met ander mense bevorder.
• Bekende rituele, gebede of liedere kan herinneringe oproep en ’n gevoel van stabiliteit in hul lewens versterk.
• Godsdiensbeoefening kan hoop versterk. Dit bevorder persoonlike groei en ’n beter begrip van hulself as gelowiges, wat hul geloofsekerheid in God bevestig.
Raad aan familie en vriende van demensielyers
Familie en vriende van ’n persoon met demensie het ook hulle eie pad om te loop. Hier is ’n paar praktiese wenke:
1 Moedig oop kommunikasie aan
Skep ’n veilige ruimte vir familielede om hul gevoelens, vrese en emosies te deel.
2 Wys ’n skakelpersoon aan
Dit help as ’n toegewysde persoon vir die nodige kommunikasie tussen die mediese personeel en die familie kan sorg.
3 Raak betrokke by ondersteuningsgroepe
Om by ondersteuningsgroepe vir gesinne van persone met demensie aan te sluit kan verhoudinge met ander mense wat hul stryd verstaan bevorder. Dit gee ’n gevoel van empatie en gedeelde ervaring. Kontak ADASA indien nodig.
4 Raak betrokke by gesinsrituele
Handhaaf familietradisies of skep nuwe rituele wat die persoon met demensie betrek, soos om stories te deel, kerse aan te steek, of bymekaar te kom vir gebed of meditasie.
5 Gee tyd vir besinning
Moedig gesinslede aan om tyd te neem vir persoonlike nadenke, dagboekjoernale, of deelname aan aktiwiteite soos natuurwandelings, meditasie of kuns, wat tot vrede en aanvaarding kan lei.
6 Benut geestelike praktyke
Moedig gebed, meditasie of ander geestelike praktyke aan wat ooreenstem met die gesin se oortuigings. Om saam by hierdie praktyke betrokke te raak, kan eenheid en ondersteuning bevorder.
7 Maak gebruik van berading
Soek professionele berading of geestelike leiding vir familielede wat dalk hulp nodig het om hartseer, verlies of angs te verwerk.
8 Vier die lewe
Fokus op die viering van die lewe en ervarings wat met die persoon met demensie gedeel word. Om geheueboeke te skep, gunstelingstories te deel, of deel te neem aan aktiwiteite wat die persoon met demensie se wese weerspieël, kan genesend wees.
9 Respekteer persoonlike behoeftes
Erken dat elke gesinslid unieke geestelike behoeftes kan hê. Bied ondersteuning en begrip, en gee ruimte vir mekaar om hul eie geestelike reis te verken. Wees eerder ’n oor as ’n antwoord vir mekaar.
Ten slotte
Mense is dikwels bekommerd oor wat die persoon met demensie se belewing van God is? Wat van ’n teenoorgestelde vraag: Hoe dink God oor die mens met demensie? In Jesaja 49:15 vind ons ’n riglyn: “Kan ’n vrou haar eie baba vergeet, haar nie ontferm oor die kind wat sy in die wêreld gebring het nie? Selfs al sou so iets kon gebeur, Ek sal jou nie vergeet nie.”
DR MICHIEL VAN DER MERWE – ’n afgetrede predikant, skrywer, ge-registreerde berader, en dien op die advieskomitee van ADASA.
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.
Datum gepubliseer: 01/11/2024
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.