Geskryf deur: Katelin van Zyl
Artikelbron: incontextinternational.org
13 Maart was dit vyf weke sedert die eerste aardbewings die suidooste van Turkye en noordweste van Sirië getref het. Die eerste aardbewing van 7,8 is opgevolg deur ’n reeks sterk skuddings en naskokke (meer as 11 000 volgens Turkye se ramp- en noodbestuursowerheid). ’n Bykomende aardbewing van 6,3 op die Richterskaal het die suide van Turkye twee weke later, op 20 Februarie, getref en ’n aardbewing van 5,6 het op 27 Februarie gevolg.
Selfs vir Turkye wat tot aardbewings geneig is, was dit die mees verwoestende aardbewing in meer as 20 jaar. Hoewel Turkye en Sirië se teenwoordigheid in die nuus sedert die aardbewings afgeneem het, duur die lyding van diegene wat geraak word steeds voort; ook die noodsaaklikheid om aan te hou bid vir hierdie nasies en almal wat by die reaksie op hierdie ramp betrokke is.
Daar was baie bemoedigende reaksies van binne die lande, sowel as die internasionale gemeenskap. Meer as 80 nasies het byvoorbeeld noodspanne en noodlenigingsgoedere na Turkye gestuur, en die grens tussen Turkye en Armenië is vir die eerste keer in 35 jaar oopgestel sodat Armenië sy buurland kon help.
Dit was egter moeiliker om hulp tot by geaffekteerde gemeenskappe in Sirië te kry en daar was hartverskeurende berigte van noodspanne wat nie in staat was om sommige geaffekteerde stede in Sirië te bereik nie. Dit het tot gevolg gehad dat plaaslike vrywilligers, soos die “’Wit Helms”, mense wat onder die puin vasgevang was probeer red het met ongespesialiseerde toerusting, soos pikke en selfs hulle kaal hande. Hoewel hulp Sirië ná ’n paar dae kon binnekom, is meer daarvan na sommige gebiede gekanaliseer as na ander, en die behoeftes is oorweldigend, gegewe die uitdagings wat deur ’n 13 jaar lange burgeroorlog veroorsaak is.
In Aleppo, wat een van die gebiede was wat die swaarste getref is, was meer as vier miljoen mense reeds voor die aardbewings van humanitêre hulp afhanklik. Kontakte, hetsy in Sirië of wat vertroud is met die situasie in die noordweste van Sirië, het berig hoe erg die situasie is. Dit is veral ten opsigte van hospitale en skuilings wat geen kapasiteit het nie en die reusebehoefte aan kos, water, klere en komberse om mense te help om die uiterste koue te trotseer. Mense is reeds getraumatiseer deur die 13 jaar lange Siriese oorlog, maar sommige mense glo dat soortgelyk aan die katastrofiese skade aan geboue, die aardbewings meer skade aan mense se sielkundige toestand aangerig het as die oorlog.
Die vele gruwels van die aardbewings sluit in die trauma dat hulle nie in staat was om mense wat onder puin vasgekeer was, te red nie of nie almal kon help wat mediese sorg benodig het nie. Selfs te midde van hierdie uiters tragiese gebeure, was daar sedert 18 Februarie berigte van lug- en bomaanvalle wat in die noordweste van die land voortduur en aandui dat die oorlog steeds woed. In beide Sirië en Turkye is die gebiede wat geraak is, die tuiste van duisende ontwortelde mense of vlugtelinge, wat nou weer dakloos gelaat is. Meer as 30 000 Siriese vlugtelinge wat in Turkye gebly het, het sedertdien na Sirië teruggekeer.
Baie Siriërs, insluitend gelowiges, is moeg en benodig bemoediging, vertroosting en vrede wat alle verstand te bowe gaan (2 Tess. 7:16-17; Ps. 94:19; Fil. 4:7). Ons kan die Here dank dat Hy sê Hy is naby die gebrokenes” (Ps. 34:19) en vir dié wat op Hom vertrou is Hy “’n toevlug en ’n beskerming; Hy was nog altyd bereid om te help in nood. Daarom is ons nie bang nie, al gee die aarde pad” (Ps. 46:2-3). Ondanks die verwoesting van hierdie gebeure, was daar getuienisse van ongelooflike wonderwerke in beide Sirië en Turkye en is ons bemoedig om God te vra om die bonatuurlike te doen, soos om voedsel te vermeerder en die trauma van die miljoene mense wat geraak is, te genees. Die Kerk kan die Heer van ons verlossing vra om Homself in hierdie krisistyd op spesiale maniere aan mense te openbaar en hulle in Sy groot barmhartigheid en genade in ’n ewige verhouding met Hom in te trek. Die wêreldwye Kerk word aangespoor om nie van hierdie nasies te vergeet nie, maar die plaaslike Kerk te ondersteun aangesien hulle as God se hande en voete in hulle gemeenskappe dien, terwyl hulle self probeer om te herstel en te herbou.*
Bid asseblief saam met ons vir die volgende:
Bid dat die wêreldgemeenskap nie van Sirië en Turkye sal vergeet nie en vrygewig sal wees om slagoffers te help herstel en herbou,
dat die Here sal voortgaan om sy Kerk te gebruik om in die behoeftes van diegene wat ly te voorsien en die liefde en hoop wat daar in Christus is met hulle te deel,
dat Siriese en Turkse gelowiges bemoediging, vertroosting en vrede sal ervaar en dat hulle sal beleef dat God vir hulle ’n toevlug en ’n beskerming is en altyd bereid is om te help in hul nood.
*Om hande te vat met die Crisis Response Network, volg die skakel en gebruik “EARTHQUAKE” as verwysing:
https://crisisresponsenetwork.net/donate/
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 16/03/2023
Foto: unsplash.com
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.