Deur: Almarie du Preez

“Ma”, ’n eenvoudige woord wat soveel komplekse emosies kan wek. Want selfs al wil ’n mens glo dat moederskap en die verhouding tussen ma en kind gevul is met die beste sorg en liefde, is dit vir baie ’n seer gedagte wanneer daardie versorging nie ’n realiteit was of is nie.

Bringers van hoop
By die Magdalena-huis-swanger-skapberadingsentrum geleë in Boston in die Wes-Kaap, word swanger vroue juis begelei om keuses te maak wat die gawe van hoop bring. Deur omvattende, gemeenskapsgedrewe programme begelei hulle geboorte-ouers tot verantwoordelike besluitneming om sodoende ’n veiliger en beter toekoms vir babas en kinders te verseker. Geanker in hul geloof in Christus, vier Magdalena-huis vanjaar hul 122ste bestaansjaar, ’n getuigskrif van ’n besonderse instansie, tans onder leiding van Stephny du Plessis.

’n Spesiale bederf
Kaapse Kansel het besluit om hierdie vroue van hoop te bederf met ’n spesiale samekoms. Met ’n vrolike en keurig gedekte tafel vol heerlike verversings het van die Kaapse Kansel-vrouens gesorg vir ’n bederfoggend vir 25 van die geboortemammas wat tans deel is van die Magdalena-huis-program. Ons Koffidate-aanbieder, Phillipine Morkel, het haar intieme lied, “’n Biddende Ma”, gesing, terwyl ander hul eie stories van ma-wees met die dames gedeel het. Na lekker eet, lekker lag en lekker huil, was dit wonderlik om as ’n groep vroue saam te kon bid vir elke geboortema en ongebore babatjie. ’n Bederfpakkie het gesorg vir ekstra groot glimlagte. Te danke aan Dené van der Merwe en haar studente van Beauty Therapy Institute is die oggend afgesluit met ’n spesiale manikuur/pedikuur vir elke geboortemamma.

Uit liefde help ons heelmaak
Deur hierdie oggend eer ons elke vrou wat die rol van versorger inneem en staan ons saam met Magdalena-huis se visie wat lui: “Uit liefde help ons heelmaak”. Mag elke individu en organisasie wat hoop bring, vandag opnuut krag ontvang en weet hulle word waardeer. Ons eer elke biddende vrou wat die gawe van hoop dra.

Die Kaapse Kansel vroue: Reinette Myburg, Musa Jakuja, Almarie du Preez, Lauran Jacobs, Susan Moss, Phillipine Morkel.

Vat hande met Kaapse Kansel
Indien jy graag hande wil vat met Kaapse Kansel deur die wonderlike werk wat hulle in die gemeenskap doen te ondersteun, of moontlik ’n donasie wil maak om die projekte te bevorder, stuur jou navraag na info@kaapsekansel.co.za. Besoek gerus ook die webtuiste kaapsekansel.co.za.

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.


Datum gepubliseer: 28/07/2024

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here