Artikelbron: Morning Star News
’n Christen-vrou in Uganda het geweldige lyding verduur. Hoewel sy haar reeds in 2021 tot die Christendom bekeer het, het sy dit tot onlangs geheim gehou vir haar Moslem-man. Toe hy egter ontdek dat sy haar bekeer het, het hy haar aangerand, uitgehonger en haar toe in ’n natuurreservaat vol gevaarlike wilde diere agtergelaat.
Sharifa Muhando (27) het haar getuienis aan Morning Star News vertel. Sy het aan die slaap geraak terwyl sy in haar kamer gebid en Bybel gelees het. Haar man het haar gebel, maar sy het deur die telefoonoproep geslaap. Hy het toe haar kamer binnegegaan en haar met die Bybel gekry. Toe haar man, Musa Bwambale, haar uitvra oor die boek wat sy vashou, het sy geantwoord dat dit ’n heilige boek is.
“Hy was woedend en het my daardie aand geslaan. Hy het vir my gesê hy straf my omdat ek Islam verlaat het,” het Sharifa vertel.
Sy het ’n week lank niks gekry om te eet nie en toe het haar man haar na die nabygeleë Koningin Elizabeth Nasionale Park geneem. “Hy het beweer dat hy ’n droom van Allah ontvang het om my iewers heen te neem. Hy het my na die park geneem en my daar agtergelaat om deur wilde diere geëet te word,” het Sharifa gesê.
Die pastoor van die geheime kerk wat sy bygewoon het, het toevallig op die hoofpad langs die onomheinde park verbygery. Hy het haar gesien en dadelik hulp ontbied. Hulle het haar saam na ’n mediese kliniek geneem.
“Sharifa was in ’n swak toestand,” sê die pastoor, wie se naam weens veiligheidsredes nie bekend gemaak word nie. “Sy is behandel vir haar beserings, veral aan haar milt, wat beseer is omdat haar man haar daar met ’n stomp voorwerp geslaan het. Sy het ook nekpyn ervaar. Dokters behandel haar verder vir die uithongering en traumaverwante simptome.”
Die pastoor het voorberei om Sharifa se man by die polisie aan te meld toe hy verneem dat Musa Bwambale in ’n verkeersongeluk gesterf het. “Op hierdie oomblik het Sharifa gebede nodig vir genesing, herstel van die trauma en vir haar toekomstige lewe,” het hy gesê. Sharifa het ‘n tweejarige seuntjie.
Die grondwet van Uganda en ander wette maak voorsiening vir godsdiensvryheid, insluitend die reg om ’n mens se geloof te propageer en van een godsdiens na ’n ander te bekeer. Moslems maak ongeveer 12% van Uganda se bevolking uit, met hoër konsentrasies in die oostelike dele van die land.
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 31/05/2023
Foto slegs ter illustrasie. Kunswerke aangepas uit unsplash.com
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.