Geskryf deur: Ds. Schalk Strauss 

Bloedsaad

Daar trek ʼn koeël met spoed, met spoed;

hy’s nat van Amerikaner-bloed,

en smart die boodskap wat hy voer;

hy kom uit Amerikaner roer,

hy gaan deur Amerikaner-hart.

Maar met die roue en die smart

bring hy steeds die hart se kragte oor.

Slaap sag, trou hart, so wreed deurboor,

Want, trekkend, trekkend jaar en stond,

sal steeds die koeël sy boodskap sprei;

en waar hy tref, heel nooit sy wond;

en wat hy tref, dit heilig hy! 

’n Ooreenkoms oor eeue heen
Met hierdie geringe aanpassing aan Jan FE Cilliers se gedig oor die dood van Jopie Fourie, vind die emosies wat tans wêreldwyd in konserwatiewes se harte leef, ’n uitlaatklep. Die sluipmoord op die konserwatiewe aktivis, Charlie Kirk, het skokgolwe deur Amerika gestuur waarvan die trillings tot aan die uithoeke van die aarde gevoel kan word. Hoewel wêrelde en meer as 100 jaar van mekaar verwyder, is die ooreenkomste tussen Jopie Fourie en Charlie Kirk treffend. Beide word as rebelle gebrandmerk omdat hulle nie bereid was om stil te bly wanneer die wêreld deur onreg verswelg word nie. Hul lewens is gekenmerk deur ’n onstuitbare en onblusbare drang vir die waarheid. Vir beide het die vlam van ’n vryheidsideaal hoog en helder gebrand. Hulle was onkreukbaar van karakter, onbeskaamd Christelik, en (letterlik) doodseker van hul redding in Jesus Christus.

Kirk se standpunt was Bybels gegrond
Hoewel Kirk se aktivisme deur baie as polities gemotiveerd afgemaak is, ontbloot ’n fyner ontleding van sy standpunte ’n dieper begronding. Hy het nie geskroom om die warmpatat-onderwerpe van ons dag aan te pak nie. Die idee van vryheid was natuurlik boaan sy lys, maar hy was nie daartoe beperk nie. Wanneer hy oor sake soos vryheid van spraak, aborsie, selfdegeslagverhoudings, vaderskap, diskriminasie, of kulturele en sosiale kwessies gepraat het, was dit nie sy logiese en retoriese vermoëns wat hom so oortuigend gemaak het nie, maar sy begronding. Wanneer hy hierdie onderwerpe beredeneer het, was die weerklanke van die Skrif en die evangelie altyd teenwoordig – dikwels eksplisiet op die voorgrond. Hy het ’n objektiewe maatstaf gehad wat sy standpunte losgemaak het van die sekulêre stank van ons tyd en dit ’n hemelse geur gegee het. Die Christelike lewens- en wêreldbeskouing was die bril waardeur hy alles beskou het.

Turning Point USA
In 2012 stig hy die organisasie Turning Point USA met die doel om konserwatiewe waardes te versprei en te bevorder. “Konserwatiewe waardes” was egter vir hom meer as ’n politieke konsep. Dit was sinoniem met Bybelse waardes. Die naam van die organisasie spreek van sy aanvoeling dat daar ’n koersaanpassing moet kom ten einde die katastrofiese gevolge van ’n woke, liberaal-sekulêre eindbestemming te vermy. Sy stryd was nooit teen “vlees en bloed nie, maar teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug” (Efes 6:12). Hy was altyd bewus daarvan dat hy nie self die stuurman is om die broodnodige draaipunt en koersaanpassing te navigeer nie. Hy was bloot instrument in die hand van die Gees wat in staat is om harte te verander en lewe uit die dood te bewerk. Dit was die draaipunt waarvoor hy hom ten diepste beywer het toe hy enkele minute voor sy dood vreesloos verklaar het: “Christ is Lord, death is defeated.”

Die bloed van die martelare
In die tweede eeu ná Christus het die kerkvader, Tertullianus, die volgende belangrike opmerking gemaak: “Die bloed van die martelare is die saad van die kerk.” Die duisternis sal nie die lig van die evangelie uitdoof nie; die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie. Mag sy onverskrokke gees in duisende kinders van die Here voortleef. Mag sy saad ook bloedsaad wees wat die konserwatiewe tradisie, soos gegrond in die evangelie en gebou op die hoeksteen van Christus en die fondamente van die apostels, soos ’n vloedgolf oor die wêreld stuur. Mag sy boodskap van vryheid, wat ten diepste in Christus gegrond is, die mure van Jerigo laat verbrokkel. Mag dit iets in ons wakker maak wat ons met dieselfde moed laat opstaan om die stryd vir die koninkryk voort te sit. Dit is immers ’n boodskap wat nie deur ’n kruis of ’n koeël gestop kan word nie!

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.


Datum gepubliseer: 19/09/2025
Foto slegs ter illustrasie. Kunswerke aangepas uit: wikipedia.com

VRYWARING

JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here