Artikelbron: www.harvestersministries.com
In Tanzanië het ’n kommerwekkende tendens begin posvat. ’n Gemeenskap van Moslems koop Bybels op om dit te vernietig.
Tog skyn die hoop te midde van die vlamme van radikalisme. In die stad Tabora het meer as 100 pastore opgewonde vergader vir Harvesters Ministries se opleidingsprogramme wat gepas, Kick Off, genoem word.
Dr. Patrick Mbota, ’n sleutelleier vir Harvesters in Tanzanië, beklemtoon hoe belangrik pastorale opleiding en kerkplanting is om die invloed van radikalisme teë te werk. Die bediening het ’n suksesvolle opleidingsprogram in Tabora gedoen en 106 pastore het bewys hoe gretig hulle is om die boodskap van Jesus te versprei. Vir een van die opleidingsessies het hulle in die strate van ’n Moslem-gebied gaan evangelisasiewerk doen. Hulle getrouheid het gelei tot 47 lewens wat deur Jesus verander is.
Die dringendheid van die situasie word onderstreep deur die feit dat sommige Moslem-gemeenskappe Bybels koop en verbrand sodat dit nie vir Christene beskikbaar is nie. Harvesters Ministries, in samewerking met Biblica, is daartoe verbind om te verseker dat die Woord van God direk in die hande van die gelowiges geplaas word deur die ‘First Church, First Bible’-projek.
Die geleenthede vir bediening in Tanzanië is groot, soos blyk uit die entoesiasme van pastore tydens die opleidingsessies. Twee dapper pastore het van ’n nabygeleë land gereis waar dit te gevaarlik is om openlik Christelike opleiding te doen. Hulle beplan om na hul land terug te keer en die wat verlore gaan “ten alle koste” te bereik.
Dr. Patrick het ’n kragtige visie vir die toekoms. “Dit is my gebed dat ons dissipelskapopleiding met mense sal kan begin in Tanzanië binne drie tot vyf jaar en dat “die land binne vyf jaar aan die brand sal wees vir Jesus”.

Gebedspunte
• Prys God vir toegewyde Christus-volgelinge in Tanzanië, verteenwoordig deur die 106 pastore wat bymekaargekom het vir die onlangse Kick Off. Bid vir hul volgehoue vrymoedigheid en passie te midde van toenemende uitdagings.
• Bid vir die twee dapper pastore wat vasbeslote is om die verlorenes in ’n nabygeleë gevaarlike land te bereik. Bid vir hulle veiligheid, goddelike beskerming en dat hulle bediening baie vrug sal oplewer ondanks die gevare wat hulle moet trotseer.
• Bid dat God se Woord die streek sal deurdring en dat elke Christen toegang tot ’n Bybel sal hê. Bid vir ons “First Church, First Bible”-projek met Biblica.
• Bid dat die radikalisme en vyandigheid jeens die Christendom verander sal word deur die liefde en waarheid van Christus. Vra dat harte ontvanklik sal wees en dat lewens verander word deur ’n ontmoeting met Jesus.
• Kom ons bid saam met dr. Patrick vir sy visie om Tanzanië te sien “brand vir Jesus!”
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 16/01/2024
Foto’s: harvestersministries.com
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.








