Geskryf deur: TWR Africa
Artikelbron: JUIG! Tydskrif
Nege dae ná TWR Malawi ’n gesogte toekenning van mediavennote van ’n VSA-organisasie in Texas ontvang het, het dié toekenning sy pad gevind na Lilongwe. Die toekenning was die Internasionale Media-toekenning wat op 25 Februarie deur die National Religious Broadcasters (NRB) – ’n Amerikaanse internasionale vereniging van Christelike kommunikeerders – tydens die groep se jaarlikse konvensie in ’n voorstad van Dallas toegeken is.
’n Erfenis van geloof en diens
Victor Kaonga, TWR se internasionale direkteur vir Oos- en Suider-Afrika, het die toekenning namens TWR Malawi ontvang. “Dis ’n groot eer vir … die luisteraars van TWR Malawi, en vir die personeel, vrywilligers én leierskap, om erkenning te ontvang vir werk wat oor baie jare opgebou is,” het Kaonga later gesê. Hy was tot 2022 die direkteur van TWR Malawi. Die organisasie word nou gelei deur Janet Mtali, wat in 2024 deel was van die Mandela Washington Fellowship for Young African Leaders, geborg deur die Amerikaanse Departement van Buitelandse Sake.
Van kortgolfradio tot FM-netwerk
TWR Malawi het in 1986 ’n uitsaailisensie verkry en ’n produksiestudio opgerig. Die programme in Chewa is via kortgolf na Malawi uitgesaai vanaf TWR se Manzini-sendstasie in Swaziland (nou Eswatini). Maar teen 1995 het Malawiese gelowiges vurig gebid dat TWR Malawi eendag ’n FM-sein sou hê, het Kaonga gesê.

’n Netwerk gebou deur geloof en vrygewigheid
TWR Malawi was een van die eerste nieregeringsmedia-organisasies in die land om in 2000 ’n FM-uitsaailisensie te ontvang, en het toe begin om hul netwerk van FM-uitsaaipunte te bou – oorspronklik met ’n enkele sender. Alhoewel hulp van buite nodig was om vir die meeste van die terreine te betaal, is die 12de en 13de senders ten volle deur luisteraars befonds. Vandag saai hulle minstens 36 individuele programme in tot ses tale uit.
“Om hierdie bediening te sien groei van een frekwensie tot 13 … wat nou die hele land van 21 miljoen mense dek, is ’n deurbraak,” sê Kaonga.
Lei met visie en jeugdige passie
Janet Mtali (34) het in Julie 2023 die nasionale direkteur geword, maar sy was vir ’n groot deel van haar lewe by TWR Malawi betrokke, onder meer met die aanbieding van kinderprogramme terwyl sy nog op hoërskool was. Sy lei tans ’n jeugdige span van 23 personeellede en 15 vrywilligers, met bykomende hulp van vennote in die bediening.
“Daardie projek (om plaaslik fondse vir senders 12 en 13 in te samel) het vir ons gewys watter impak TWR Malawi in hierdie land het,” het Mtali gesê. “Ons het sowat 1 250 luisteraars gehad wat daardie projek ondersteun het. Dit wys werklik dat sodra ’n persoon geraak word, hulle dan [kan] teruggee aan die bediening.”
TWR Malawi se personeel saam met Janet Mtali (wat die toekenning vashou) en Victor Kaonga regs van haar.
Vernuwing vir ’n nuwe generasie
Die span rus egter nie op hul louere nie. Alhoewel 80% van die Malawiese bevolking in landelike gebiede woon en steeds op FM-radio staatmaak, reageer TWR Malawi ook op ’n toenemende sosiale media-teenwoordigheid. Een personeellid is spesifiek aangestel om aanlyn inhoud te ondersoek, sê Mtali. In ’n land waar die helfte van die bevolking jonger as 18 is, ontwikkel TWR Malawi ook meer inhoud wat spesifiek op jongmense en kinders gemik is.
Volhoubaarheid deur plaaslike vennootskappe
Volgens Mtali werk TWR Malawi daaraan om meer plaaslike vennootskappe aan te knoop en minder afhanklik van eksterne ondersteuning te wees. ’n Plaaslike organisasie borg byvoorbeeld vanjaar ’n programreeks vir kinders en ouerskap, terwyl ander plaaslike vennote finansiële ondersteuning bied vir programme oor persoonlike finansies.
Mtali sê sy hoop om, met behulp van digitale platforms, meer Malawiërs wat buite die land woon, te bereik. Haar span fokus ook daarop om luisteraarbetrokkenheid te verhoog.
’n Getuienis van God se getrouheid
Volgens Mtali het die TWR Malawi-span nie erkenning gesoek nie. (Die nominasie is deur TWR International gemaak.) Tog was dit ’n groot bemoediging vir personeel, vrywilligers en luisteraars.
“Dit is regtig vir ons ’n feesviering en ook vir al die mense wat al geluister, ondersteun en vir ons bediening gebid het, want ons het ’n span wat getrou vir ons bid,” sê Mtali. “Dit is net ook ’n herinnering aan God se getrouheid en gee ons daardie gevoel van verantwoordelikheid – om te sê ons moet aanhou om media tot God se eer te gebruik.
’n Mylpaal om te vier
“Ons het ’n ete gehou om dit te vier, en almal het foto’s geneem met die toekenning,” sê Mtali. “Dit was werklik besonders.” Volgens NRB is die Internasionale Mediatoekenning aan TWR Malawi toegeken vir hulle baanbrekerswerk in Christelike uitsaaiwese. “Met 13 FM-senders en programme in ses tale, versprei TWR Malawi steeds die Evangelie in een van die wêreld se armste lande.”

Gebedspunte
· Die uitsaaitoerusting is verouderd en moet vervang word. Bid asseblief vir die tegniese assessering en die nodige middele vir die opgradering.
· Bid vir vrede in Malawi namate die land in September verkiesings hou – te midde van politieke spanning en ekonomiese uitdagings.
· Bid vir eenheid in die Kerk in Malawi – dat hulle ’n lig en hoop sal wees vir dié sonder hoop.
Die bediening van radio om die Goeie Nuus van Jesus Christus te versprei, is moontlik gemaak deur die gawes van ons ondersteuners. Oorweeg dit asseblief om hande te vat met TWR om die Evangelie te versprei:
Transworld Radio Suid-Afrika
Standard Bank | Rekening: 011932945
Tak: 011545 | Verwysing: JOY + jou naam
011 974 2885 | info@twrafrica.org | twrafrica.org
…om die volle artikel te lees, skaf gerus vir jou hierdie JUIG Tydskrif aan! Koop eksemplare by toonaangewende supermarkte, of vind dit (druk of digitaal) aanlyn by joygifts.co.za.
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.
Datum gepubliseer: 26/07/2025
Foto’s verskaf
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.









