Geskryf deur: Solidariteit Helpende Hand
Artikelbron: Artikel verskaf
’n Groep bekendes het onlangs vir die eerste keer in Worcester in die Wes-Kaap byeengekom om te help om behoeftige kinders in Afrikaanse gemeenskappe te voed.
Sportlegendes soos Naas Botha, Marius Joubert, Marius Schoeman, Tobie Botes, Werner Greeff, De Wet Barry en Schalk Burger sr. het 7 Maart die “Legendes Gholfdag van Hoop” by die Worcester Gholfklub bygewoon. Die geleentheid was ten bate van HelpJag, ’n inisiatief van Solidariteit Helpende Hand. HelpJag, wat deel is van Helpende Hand se Kosblikkie-projek, versprei wildsvleis na ongeveer 119 skole reg oor die land en voed daagliks meer as 8 000 kleuters.
Kunstenaars soos Ichnus Wait, Adam Tas en Appel het opgetree en die bywoners op hul voete gehad. Bok van Blerk en Wynand Strydom het ook die geleentheid bygewoon en spontaan saam met Adam en Appel liedjies gesing. Die akteur Ramey Short se teenwoordigheid het die dag nog meer spesiaal gemaak.
Die aand is afgesluit met ‘n veiling waartydens meer as R200 000 ingesamel is vir die verwerking en verspreiding van wildsvleis. “Dit was werklik ‘n merkwaardige geleentheid met ‘n indrukwekkende gastelys. Hul ondersteuning vir HelpJag beteken vir ons baie, want vir vele Suid-Afrikaanse gesinne is vleis deesdae ‘n luuksheid. Dit is hartverskeurend dat soveel kleuters afhanklik is van ‘n ete by die skool as hul primêre ete vir die dag. Vleis is ‘n goeie bron van proteïne en is nodig vir gesonde ontwikkeling,” sê Margolé Riekert, hoof van projekte by Solidariteit Helpende Hand.
Toekomstige hoogtepunte sluit in die HelpJag Gholfdag op 12 April in samewerking met die Kriek Wildlife Group in Kimberley en die HelpJag Legendes Gholfdag op 9 Oktober in Pretoria by die Centurion Country Club.
Ramey Short, Marius Schoeman, Marius Joubert en Tobie Botes
Die publiek kan HelpJag ondersteun deur ‘n donasie te maak of ‘n bok te skenk nadat hulle gaan jag het. HelpJag het ‘n netwerk slaghuisondersteuners reg oor Suid-Afrika en sorg vir die verwerking en verspreiding van die vleis. Verlede jaar is ongeveer 32 ton vleis ingesamel en versprei. Oor die afgelope ses jaar is meer as 200 ton vleis verwerk en nasionaal versprei.
“Die kinders wat deur HelpJag gevoed word, is ons toekomstige leiers, onderwysers, en entrepreneurs. Deur ‘n bok te skenk of ‘n donasie te maak, kan jy ‘n direkte impak maak op hul lewens en hul toekoms. Helpende Hand het sterk strukture regoor die land wat dit moontlik maak om die projek volhoubaar en landwyd te bedryf,” sê Riekert.
Werner Greef, Schalk Burger snr, Naas Botha en Bok van Blerk
Riekert moedig die publiek aan om deel te word van hierdie merkwaardige inisiatief. “Of jy nou ‘n jagter, ‘n slagter, of iemand is wat eenvoudig wil help, jou bydrae kan ‘n lewe verander. Onthou, geen bydrae is te klein nie.”
Besoek www.helpjag.co.za vir meer inligting.
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.
Datum gepubliseer: 22/03/2024
Foto’s verskaf: Al die spelers wat die Legendes Gholfdag van Hoop by die Worcester Gholfklub bygewoon het
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.