Hoop In ’n Wêreld Wat Brand!

“My familie is weg. O God, my familie het gesterf, my ondersteuning en krag het gesterf. Dertien het hemel toe gegaan.” – Al-Halabi, ’n treurende vader.

Die roukrete van moeders, vaders en kinders het weergalm deur die ruïnes nadat die verwoestende aardbewing, wat 7,8 op die Richterskaal gemeet het, die grensdistrik tussen Turkye Sirië op 6 Februarie 2023 getref het. Volgens UNICEF was dit die kragtigste aardbewing wat die streek die afgelope 100 jaar getref het.

Dodetal
Die dodetal het die 50 000 merk verbygesteek met reddingspanne wat meer liggame onder die puin van duisende ineengestorte geboue uitgehaal het. Die reaksiespanne het onvermoeid gewerk sedert die aardbewings die gebied getref het, maar die swak ekonomiese toestande het hulle werk belemmer. In Sirië is reddingspogings verder in die wiele gery in die rebelle-beheerde gebiede in die noorde van die land.

Burgeroorlog
Die lewering van noodsaaklike voorrade aan die gebiede in Noord-Sirië word bemoeilik deur die langdurige burgeroorlog tussen opposisiemagte en die Siriese regering. Die oorlog word gelei deur president Bashar al-Assad wat daarvan beskuldig word dat hy sy eie mense vermoor het. Rusland, wat Assad se regime steun, het voorheen goedkeuring vir nog ’n hulproete na Sirië afgekeur.

Bomme in Kiëf
Dit is ook nou net meer as ’n jaar sedert Rusland se eerste bomme op Kiëf, Oekraïne, laat val en die vrede verpletter het. Steeds is daar geen einde in sig nie. Die span van FEBA Oekraïne het sedert die begin van die oorlog bly voortgaan om boodskappe van hoop uit te saai en luisteraars op hoogte te hou van die nuwe verwikkelinge, selfs terwyl sommige in bomskuilings weggekruip het. Sommige van die spanlede het verkies om in die middelpunt van die oorlog agter te bly en die boodskap van die liefde van Jesus Christus uit te saai.

Kyk gerus hier na die mees onlangse video van FEBC Oekraïne
https://www.febc.org/2023/02/23/ukraine-ministry-after-1-year-of-war/

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


Datum gepubliseer: 03/03/2023
Artikelbron: febaradio.co.za
Foto Verskaf

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.